Soms voel ‘n mens se stiltetyd mos soos net nog ‘n punt op jou moet-doen-lysie, en dit laat jou skuldig voel. Die gedagte wat karring is dat “as jy dan werklik so lief was vir God, sou jy mos elke dag uit jou bed uit spring om stiltetyd te gaan hou”…nie waar nie?
Nancy se raad is: Dis nie noodwendig die kriteria nie, want ons wil nie gedryf word deur ons emosies nie. Aan die anderkant, is dit weer goed om by die goeie gewoontes te hou wat jy al aan gekweek het. Baie keer volg ‘n begeerte om iets te doen op jou selfdissipline en getrouheid. Selfs wanneer jy getroud is voel jy nie altyd liefdevol teenoor jou man nie, maar jy kan steeds God se beginsels van liefde toepas. Menigmaal sal jy dan sien dat jou gevoel teenoor jou man dan wel verander.
Dit werk presies so in jou verhouding met God. Soos Charles Spurgeon gesê het “Ons moet bid wanneer ons wel lus voel en in die bui is vir bid, want dit sal ‘n sonde wees om so ‘n goeie geleentheid te laat verbygaan; en ons moet bid wanneer ons nie in die bui daarvoor is nie, want dit sal roekeloos wees om in so ‘n ongesonde toestand te bly.”
Kom ons bid soos Dawid in Psalm 86:4 “Verbly die siel van u kneg, want tot U, o Here, hef ek my siel op. Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep.”
Seëngroete van ROHSA