icon-newsletter

Bewyse van groei 

 

Aandetes is dalk ook in jou huis ‘n gesmeek en gesukkel: “Komaan, kinders. Ek wil regtig hê jy moet jou groente eet. Julle wil groot word, nie waar nie?”

Wanneer ‘n kind groot word en groei, sien jy gewoonlik nie dag vir dag bewyse van groei raak nie. En dan skielik besef jy elke aand se gestoei aan etenstafel lewer wel resultate. Skielik pas geen broek meer nie, en al die truie se arms is te kort.

Dieselfde geld vir geestelike groei. Van dag tot dag lyk dit dalk nie of jy veel uit God se Woord kry nie. Soms sal dit voel asof jy dit soos groente moet af wurg. Maar as jy aanhou, sal jy na ‘n paar maande kan terug kyk en sien hoe die Woord jou lewe gevorm en hervorm het, hoe jou gees gegroei en ontwikkel het.

Soms sal die woorde van Psalm 119:103 vir jou ‘n werklikheid wees: “Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond.”  Ander dae sal moeiliker wees. Maar as jy getrou is, sal jy verseker op die langtermyn besonderse resultate sien.

 

Seëngroete van ROHSA