Soms praat God direk met jou en met my, dit is baie persoonlike boodskappe met spesifieke opdragte. DIt mag dalk byvoorbeeld wees om iets wat in die wêreld se oë heel aanvaarbaar is, nie te doen nie – soos om ander se ontwerpe of fotos te gebruik sonder hulle toestemming…
God het vir Koning Saul ‘n spesifieke opdrag gegee – die Amelekiete moes gestraf word vir hulle boosheid, daarom moes Saul elke dier en mens van hulle doodmaak. Hy hét omtrent alles gedoen soos God beveel het, hy het net nie koning Agag en die beste diere doodgemaak nie. Koning Saul se verweer was dat die diere vir offers aan God gebruik kon word.
Maar die profeet Samuel het hom in 1 Samuel 15:22 geantwoord: “Wat verkies die Here: brandoffers of gehoorsaamheid? Gehoorsaamheid is beter as offers; om te luister is beter as die vet van ramme. Opstandigheid is net so ’n oortreding soos waarsêery, en hardkoppigheid is net so ’n sonde soos afgodery.”
Saul se keuses wys vir ons iets baie belangrik uit: Gedeeltelike gehoorsaamheid is in werklikheid ongehoorsaamheid.
Seëngroete van ROHSA