As jy vroeg more oggend ‘n belangrike besigheidsvergadering het, hoe sal jy die aand voor die tyd, daarvoor voorberei? Jy sal dalk weer deur jou notas gaan om seker te maak jy is bekend met die inligting. Sommige van ons sal selfs ons klere al regkry.
Ons lees in Eksodus van ‘n belangrike vergadering wat Moses een oggend by gewoon het. God het in Eksodus 34:2 vir Moses gesê: “Jy moet môre oggend gereed wees. Gaan dan teen Sinai-berg op en wag daar bo-op die berg vir My.”
Watter wonderlike geleentheid het Moses gehad om God self te ontmoet! Weet jy wat? Jy het dieselfde geleentheid. Die belangrikste Persoon in die ganse heelal wil met jou ‘n ontmoeting hê! Hy het met Moses op die berg ontmoet. Hy sal jou ook ontmoet deur Sy Woord en gebed.
Ek het ervaar dat voorbereiding die aand voor die tyd my help om hierdie belangrike afspraak na te kom. In plaas daarvan om tot laat stories en nuus te kyk, hoekom spandeer jy nie eerder van daardie tyd om na geestelike musiek te luister of Skrifgedeeltes te oordink nie?
Jy is uitgenooi na ‘n belangrike vergadering more oggend. Hoe kan jy vanaand daarvoor voorberei?
Seëngroete van ROHSA