Wanneer iemand hoogmoedig en trots voorkom, is ander geneig om hulle eerder te vermy. Wanneer dit lyk of hulle dink hulle alles beter doen, onttrek mens jouself sommer vinnig-vinnig. Ek is seker jy was ook al in sulke situasies waar iemand so beterweterig is, of waar iemand jou nie ‘n kans wil gee om jou mening te lig nie.
Dit gebeur ongelukkig nie net tussen mense nie, God onttrek homself ook van ons, wanneer ons hoogmoedig en trots optree. Keer op keer lees ons in die Woord dat hoogmoedigheid vir God afstootlik is. Wanneer God Hom van ons onttrek is ons in groot moeilikheid! Maar net soos ons, is God ook aangetrokke tot nederigheid. Sy Naam is Heilige God, en Hy sê: “Ek woon in die hoë hemel, in die heilige hemel, maar Ek is ook by die mense wat nederig is, by mense wat weet hulle is onbelangrik en niks. Ek gee vir hulle nuwe lewe. Jesaja 57:15
Is daar ‘n situasie wat jy net nie weet hoe om te hanteer nie? Miskien is dit juis ‘n geleentheid om jouself te verootmoedig, jou behoefte te erken en op God se hulp staat te maak. Seëngroete van ROHSA
Seëngroete van ROHSA