icon-newsletter

‘n Skouspel vir die wêreld, vir engele sowel as vir mense.

Hou jy daarvan om voor ‘n gehoor op te tree? As jy mooi daaroor dink, staan ons almal eintlik voor ‘n gehoor. In 1 Korintiers 4:9 sê Paulus oor die apostels se bediening “Ons het ‘n skouspel geword vir die wêreld, vir engele sowel as vir mense.” Net soos die apostels gevoel het toe hulle aan God gehoorsaam was en hulle geloof voluit beoefen het, kan ons ook soms swaar kry a.g.v. die regte keuses wat ons moet maak . 

Ek dink aan die boek Job. Job het nie die hele storie van sy lewe geken nie. Hy het nie geweet dat God en Satan hom dop gehou het om te sien of hy God sou aanbid tydens sy ongelooflike lyding nie. Te midde van sy beproewing het Job in hoofstuk 1 al gesê: “Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.”

Ek kan my voorstel hoe die engele in die hemel op daardie oomblik, God begin toejuig het, want deur Job se woorde is God se naam geregverdig. 

Bly jy getrou aan God selfs wanneer jy gekritiseer word of dinge ervaar wat net nie sin maak nie. Onthou, God en die engele kyk. Jou getrouheid onder druk sal hulle ‘n rede gee om God met blydskap toe te juig!

Seëngroete van ROHSA